Briewe van Ouers

Mooikrans se Ruiterskapkursusse word in Dubai aangebied:

Sarel en Anschen du Plessis skryf uit Dubai - 3 Augustus 2010

Nuus hierdie kant is dat ek al die afgelope paar maande aan beplanning werk om vir Sarel en Marcel ‘n geleentheid te kry sodat hul die perde-kursusse kan aanbied in Dubai en soos jy weet, is dit half ‘n onmoontlike taak gewees.

Maar met die lang vakansie op hande het ek weereens advertensies opgestel, die Mooikrans Equus kursusmateriaal in Engels vertaal en ons het die eienaar van ons Perdryskool genader en hy het sy toestemming gegee dat ons met die kursus kan voortgaan op sy perseel.

Ons noem die kursus net NATURAL HORSEMANSHIP en beplan om die ouens bietjie beter bewus te maak van die perd se natuur, sy liggaamstaal, hoe om na die perd te kyk, ens. Die eienaar is baie opgewonde, want hy voel die mense verniel sy perde en dat die huidige perde-hanteerder is ‘n vrou en niemand luister na haar nie, so hul maak met die perde net soos hul wil.

Hy voel dit sal die mense help om sy perde beter op te pas en beter te verstaan en selfs ‘n liefde vir die perd te kweek.

Ons is baie opgewonde hieroor. Jy sal nie glo hoeveel volwasse arabiermans na die kursus wil kom nie. Bid asb. dat die kursus ‘n sukses sal wees.

Ag, ons verlang na jul, maar bid vir jul en wens ons kan jul binnekort sien.


Gail Stroh

Ek wil net die geleentheid gebruik om baie dankie te se vir die tyd wat Shane en Monique by julle kon kuier. Ek moet eerlik wees en vir jou se dat ek baie skepties was om hulle te stuur. Shane het nog elke jaar vir my die briefie gebring en nog elke jaar het ek dit weggegooi omdat ek te bang was om haar in net eenig iemand se sorg te los (maar ‘n oorbeskermende ma!!). Estelle het my oortuig om hulle in te skryf nadat hulle gese het hulle wil gaan.

Dit het hul altwee se selfvertroue gehelp en vir hulle die wereld beteken – hulle kan nie ophou praat oor hulle week saam met julle en die perde!!

Dit lyk vir my ook dat dit nie die laaste keer gaan wees wat julle hulle sien nie, altwee wil weer op Mooikrans kuier.

Baie dankie vir die wonderlike verskil wat jy en al die mense wat by die kamp help in ons kinders se lewe gemaak het. Ons waardeer dit omdat dit is nie eenigeen wat hulle tyd vir kinders opoffer nie!


Willemien von Solms

My twee seuns, Dewald en Rohan, het in Desember die voorreg gehad om Mooikrans te besoek vir ‘n perdryvakansie. En wat ‘n voorreg was dit nie. Ek het regtig nie verwag dat die vakansie so ‘n groot impak op die kinders sal hê nie. Dit is veral die geval met die oudste, Dewald, wat nie uitgepraat kan raak die die “beste vakansie ooit” nie. Hy het so baie oor perde, menseverhoudings en homself geleer en is ongelooflik positief na sy vakansie. Ek hou goeie moed dat die positiewe gesindheid ook in skooljaar sal voortduur.

Rohan het die vakansie net so geniet en is vasbeslote om met die volgende vakansie sommer twee kursusse aan te pak.

Verder is ek reeds deur die twee ingelig dat hulle Junie-vakansie vir twee weke Mooikrans toe gaan en dat ek solank daarvoor moet begin spaar. Met sulke resultate gaan ek verseker sorg dat hulle weer Mooikrans toe kom.

Ek is ook baie beindruk met die personeel wat met die kinders werk en kan net vertrou dat my twee seuns ook eendag in sulke aangename jong mense ontwikkel.

Die Von Solmse sien julle weer in Junie.


Tiaan en Leonie, Ermelo

Dankie vir ‘n wonderlike plek – ons los ons kinders daar met geruste harte, want ons weet dat hulle waardes daar leer wat belangrik is. Julle doen wonderlike werk en dit is ‘n voorreg ons kinders na Mooikrans te stuur.


Wilna Grobler, Middelburg

Wil net weer baie dankie sê vir die wonderlike kamp wat julle vir die kinders aangebied het.  Hulle het dit albei vreeslik geniet, ons ore het behoorlik getuit oppad terug huis toe van al die stories wat vertel word.

Gerhard en ek praat so, dit is so lekker om te sien hoe die kinders borrel van geluk, dit is genoeg dankie vir ons as ouers om dit vir hulle te kon moontlik maak.  Daar is reeds vir ons vertel dat hulle weer wil gaan, en het reeds begin planne maak om te spaar.  Dit is Pa se voorwaarde, dat hulle moet spaar om te help betaal.

Die DVD is ook al ’n paar keer deurgewerk, nou sit hulle met die groot verlang na die plaas en die perde.  Karla wil nou net elke dag perd ry, die gogga byt behoorlik.  Is jammer dat ons nie perde het.

Sterkte vir al jul bedrywighede vir die res van die jaar, God’s rykste seën vir julle met die wonderlike werk wat julle vir ons kinders doen.


Suné en Wessel Jordaan

ons wil graag vir tannie `n paar foto's stuur van ons laaste kampdag vir 2008/9 wat my pa geneem het. Hoop dit vat nie te lank om af te laai nie, dit is so bietjie kleiner gemaak.

Weereens baie dankie vir `n lekker kamp, ons wil baaaaie graag weer gaan - dit was lekkerste kamp ooit!


Dominee Awie en Marlene Verhoef, Wierdapark, Pretoria

Toe ons gesprek op pad hierheen afgesny was wou ek nog sê dat ons vir lank nog die herinneringe van Mooikrans en sy mense met ons sal dra.  Dit was werklik vir ons albei 'n heerlike en ontspanne tyd ten spyte van die verantwoordelikheid van die kamp. 

Baie dankie vir die uitsonderlike ervaring wat julle op Mooikrans bied.  Dankie ook vir die wonderlike manier waarop jy (julle) moeite gedoen het om met ons te gekuier het.  Ek het maar net weer agtergekom dat 'n mens in die stad baie inboet aan kwaliteit en die eenvoud van die lewe.  Dis maklik om te sê dat die stad in die mens is - en dis waar! - maar daar is darem iets te sê vir 'n kuier weg van die stad se gewoel! 

Hoop om julle (eerder gouer as later) weer te sien!


Daleen de Wet, Witbank

Markus en Lienke  kan nie uitgepraat raak oor hierdie kamp nie –  Ek dink dis omdat  dit nou die 2de een was en hulle het geweet wat om te verwag – hulle het die minder kinders ook geniet. Markus het gisteraand so staar uitdrukking gekry en toe ek vra wat nou  - toe se hy hy wil NOU op Mooikrans wees. Dit gee mens ‘n warm gevoel dat jy weet hulle geniet dit werklik en dat mens op die regte plek is!


Alet Ueckermann, Kempton Park

My kinders het jou kamp bygewoon hierdie laaste week en ek moet julle komplimenteer.  Ek was baie bekommerd oor my oudste kind voordat hy soontoe gekom het.  Hy het geen lus vir die lewe gehad nie en ons het permanent vasgesit oor die kleinste dingetjies.  Ek het ‘n totale ander kind terug gekry na die week by julle.  Hy is gehoorsaam, vriendelik en ‘n plesier om in die huis te he. 

Ek dink julle bied ‘n wonderlike geleentheid vir kinders aan om daarna toe te kom en ek sal vir seker vir almal wat ek kan vertel daarvan.  Die Here het julle toegerus om hierdie werk te doen en julle doen dit wonderlik.  Ek wil julle graag bedank vir dit wat julle vir my kind en vir ons gedoen het.

 


Kopiereg, ©Mooikrans Equus, 2008 - alle regte voorbehou
Laaste opdateering: 19-Okt-2009
Rapporteer enige tegniese probleme aan Luuk ICT
Webbladontwerp en -ontwikkeling:
Luuk ICT