• hat.jpg
  • horses.jpg
  • kids.jpg
  • riding.jpg
  • saal.jpg

 

Middag Elna

Wil ook net se hoe dankbaar ons is vir julle liefde en die wete dat ons, ons kinders met ‘n geruste hart in julle sorg kan laat. Ons bid julle toe die Seen van die Here op julle werk.

Groete
Christo en Ouers

 

Leon Susan

Liewe Tannie Elna, "Ons gaan kamp op ‘n perde kamp daar naby Amersfoort …." was my "volks lied" vanaf 2002 tot 2017. In hierdie tydperk het ek altesaam 11 kampe op Mooikrans...

Lees meer

 

Karen Comely

It is with great pleasure that I write this response for you!

I truly believe that when we arrange a function or activity for our Reddam students that it needs to be a worthwhile experience...

Lees meer

Amersfoort geskiedenis

Op ‘n vergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te Utrecht, op 3 Desember 1866, was die afgevaardigdes van die Vaalrivierwyk en die Wakkerstroomwyk ook  teenwoordig. Met die vergadering is besluit dat ‘n nuwe, onafhanklike gemeente vir hierdie gebied gestig moes word. Ouderling N. J. Grobler skenk ‘n stuk van sy grond van 400 acres en ouderling M. J. Oosthuizen skenk 100 acres reg langsaan.

Op 20 Oktober die volgende jaar word die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê deur die bekende ds. Leon Cachet. Gemeentelede kry ook nou die geleentheid om erwe by die Kerkraad te koop. Die uitmeet van die erwe is met osrieme van ‘n sekere lengte gedoen.

Die bogenoemde ouderling Oosthuizen is vermoedelik die Voortrekker kinderheld van Blaaukrantz. Sy grafsteen in die Kerhof op Amersfoort is uit klip gekap en die van Oosthuizen is nog  net-net leesbaar.

Hoe was die lewe op Amersfoort gedurende hierdie jare?

Voortrekkers kom van Natal, vroeër van die Kaap. Hulle lê groot plase aan op die oop vlaktes van die hoëveld waar daar geen inheemse swart bevolking is nie. (Amersfoort se winterstemperatuur van tot -6 grade is hiervoor verantwoordelik.) Plase kry pragtige name, Mooigelegen, Piet-Zyn-Drift, Zoo-als-hy-lykt, Knelpoort, Willem Hendriksvlei. Die mense is Groblers, Oosthuizens, Greylings, van der Merwes, Lotze en nog baie ander. Die wereld lê oop en orals loop skape en beeste. Net genoeg mielies om papmeel te maak word geplant. Die grond word met osse en ‘n houtbalkploeg met een skaar omgekeer.

Smouse kom van Natal met  hul verkoopsware. Knipmesse, roksmateriaal, gereedskap en nog baie meer kan verruil word vir die beesvelle, wildsvelle en skaapwol wat gereed is in die waenhuis.

Transsportwaens kom van die Kaapkolonie met groot vragte stinkhout, ystergereedskap en ander met sout van die soutpanne. Veekopers kom koop vee en trek met groot troppe vee terug na waar hulle vandaan kom. Dit gaan goed.

In die vroeë lente kom groot troppe wild oor Elandsberg, oos van die dorp. Elande, hartbeeste, kwaggas, blesbokke, wildebeeste en springbokke wei orals. Een maal is die van der Merwetjies daar toe ‘n paar baba-bokkies in die modder van die spruit vasval. Hulle vang gou en sny hulle pa se oormerk. Later word die van der Merwes se wild deur jagters by Bethal geskiet.

Orals is nog leeus, maar hulle vang ook beeste. Op Witkoppies besluit die baas genoeg is genoeg, toe daar elf leeus ‘n klomp van sy beeste vang. Toe hy lostrek en skiet, byt sewe van die elf in die stof. By Leeurant se punt na Morgenzon se kant, soek ‘n paar boere een more na iets vir die pot. Visagie sien ‘n blouwildebees, hy bekruip versigtig te voet terwyl sy vriende wag. Hulle hoor twee skote klap.

“Ag nee man, hoe skiet jy so vrot? Koeëls is skaars!”

“Man, toe ek sien, sien ek ‘n leeu bekruip my wildebees. Toe skiet ek eers die leeu en toe die bees.”

Tog na die Laeveld en weer terug

Teen Meimaand, wanneer dit begin koud word, pak almal op en trek met hul vee die berg af na die Laeveld toe om die wintermaande daar deur te bring waar die weiding ruig is en wild volop is.

Wanneer die lente aanbreek verskyn die troppe wild, vee en waens weer oor Elandsberg en word die hoëveldse huis se deure en vensters oopgemaak, afgestof en die werf  gereed gemaak vir die somer wat voorlê. Die somerreens maak die spruite vol en water en weiding is vollop.

Met Kersfees kom die families saam en Kersdag word soos ‘n Sondag deurgebring. Met Nuwejaar kom die waens en perdekarre vol mense bymekaar op Vlakplaas van oom Nicklaas en dan is daar perderesies, skyfskiet, toutrek, sakresies en ‘n lekker dans in die waenhuis.

Nagmaal word op die dorp gevier. Die tente staan in rye op die Kerkplein. Jong mense word aangeneem en voorgestel, kinders word gedoop en nagmaal word bedien. Die ouderlinge, Frans Lotz, Retief, Potgieter en ander dra swart manel-pakke. Dominee Cachet hou die dienste.

‘n Wonderlike tyd!

Oorlog!  Runderpes! Oorlog! Swartgriep!

Die Eerste Engelse oorlog breek uit in 1880. Amersfoort staan hul man teen die Engelse maar al wen ons die oorlog met die Slag van Majuba by Volksrust, is daar ook gesneuweldes onder ons.

Toe breek die donker dae van 1896 aan. Uit Oos-Afrika kom die runderpes en in ‘n paar weke se tyd is derduisende beeste oor die vasteland dood, ook by Amersfoort.  By oom Daan Wessels is 240 van sy 255 beeste dood en by ‘n ander 220. Net elf bly oor. Dit was ‘n geweldige geldelike terugslag vir die veeboere.

Die ergste kom in 1899. Die Tweede Engelse Oorlog breek uit. Die ramp tref nie net Amersfoort en sy mense nie, maar die ganse Boerevolk.

Amersfoort het sy deel gehad aan smart, ellende, vernedering, verliese en trane. Plase en Boerewonings is afgebrand, vee is geroof of doodgeskiet op hope. Op die Volksrustpad net buite Amersfoort is meer as 200 Boerperdmerries een oggend doodgeskiet deur die Engelse.

Al die mans en seuns is gevegsfront toe. Vrouens en kinders is later met ossewaens na Volksrust en Standerton se Concentration Camps weggevoer of aangejaag deur Engelse soldate. Op Morgenzon wil die Engelse ‘n kwaai ou tannie Swanepoel oplaai maar sy klim met die vuiste onder hulle in. Hulle val terug en met ‘n oormag oorrompel hulle haar en bind haar met osrieme aan die wa vas.

In die Konsentrasiekampe oor ons land sterf baie vroue, maar baie meer kindertjies. Van tant Magrietha Swart se agt kinders kom nie een lewend uit die kamp nie. Baie van Amersfoort se burgers het die hoogste tol betaal. In 1913 is ‘n monument voor die stadshuis opgerig ter nagedagtenis aan hierdie mans, vroue en kinders.

Ongelukkig was daar ook die skande op Amersfoort dat daar mense was wat met die vyande geheul het, die verraaiers of soos hulle genoem is: Joiners.

Alle geboue op Amersfoort is afgebrand en verwoes – die hele dorp moes herbou word. Enkele plaaswonings, meestal die van Joiners het bly staan. Ook op Mooigelegen is die woonhuis totaal verwoes sodat ‘n nuwe huis na die oorlog gebou moes word.. Alle vee was weggevoer of doodgemaak, vrugteboorde is afgebrand en alle buitegeboue en krale is afgebreek. Almal was bitterlik arm en verhonger en ‘n winter sonder skuiling het voorgelê. My oupa, oupa Adriaan Fischer van Morgenzon keer terug van die oorlog en moet sy eie skape gaan terugkoop by sy Joiner buurman, om weer ‘n begin te maak.

In 1904 woon daar volgens die staatssensus 168 wittes en 53 swartes op Amersfoort.

Die Swart Griep begin en versprei in 1918 oor die hele wereld. Honderde duisende mense sterf en weer word Amersfoort in rou gedompel. Ook die Lotz familie wat in hierdie tyd op Mooigelegen woon, begrawe twee kinders in die plaaskerkhof.

Republiek!

Op 31 Mei 1961 juig ons mense toe ons land onafhanklikheid van Engeland verklaar en die Republiek van Suid-Afrika gestig word. Uiteindelik regeer ons eie mense weer oor ons! Groot feesvierings word dwarsoor die land gehou en ook op Amersfoort juig ons oor ons vryheid. Ons ry in motors waaruit die Republiekvlag wapper!

ANC Oorname

In 1994 verloor Amersfoort die seggenskap oor homself en word ons dorp oorgeneem deur die ANCdorpsraad, Seme. Sedertdien is die tragiese agteruitgang van ons geliefde dorpie ook deel van die tragiese agteruitgang van ons dierbare land.

ELNA WAHL

2008

Met erkenning aan ander onbekende skrywers en www.amersfoort.co.za.

 

Proudly created by The Code Company © 2017 [Login][sitemap]