MEDIA ROOM
Voorblad: Perd is 'n perd is 'n terapeut!
2010-05-08 13:21
Magda Swart
Wanneer kinders in die natuur blootgestel word aan perde, hulle leer verstaan en begin ry, gebeur daar iets. Jy sien dit in hul oë, in hul houding... Dis dáárdie iets (wat nie so maklik gedefinieer kan word nie) wat jou laat besef diegene wat oor perde se helende uitwerking op die mens praat, is dalk nie heeltemal verkeerd nie.
Elna Wahl is al langer as tien jaar besig met kinders en perde by Mooikrans Equus op haar plaas Mooigelegen naby Amersfoort in Mpumalanga. En ná al die jare is sy steeds verwonderd oor hoe ongelooflik goed die kinders reageer wanneer hulle 'n week of langer op die plaas in aanraking kom met die perde.
"Hulle kom hier aan met hul stadsklere en ongeërgde houding... baie belangrik en vol bravade of skaam, bang vir alles en duidelik heeltemal uit hul plek tussen al die ander vreemde kinders en die plaasdiere.
"Dan begin die wonderwerk tussen perd en kind. En wanneer daardie 'stadskind' huis toe gaan, gebeur daar gewoonlik drie dinge: Eers die hartseer afskeid van nuwe vriende en 'n baie spesiale perd, en dan die belofte om so gou moontlik terug te kom. En 'n dag of wat later bel 'n ouer gewoonlik om te vertel hoe die kind verander het. Altyd ten goede."
As Elna begin gesels oor wat sy haar "spesiale kinders" noem, blink haar oë. So was daar 'n seun wat byna by die einde van sy pad in Boys Town gekom het. Sy pa was moedeloos en het hom een vakansie op Mooikrans kom aflaai.
"Aanvanklik was ek maar skepties en het vir sy ouers gesê die eerste keer dat hy probleme veroorsaak, stuur ek hom huis toe. Hy kom toe ook hier aan – onwillig, dikmond, beketting en loop met 'n slap houding. Ek het nie veel hoop gehad nie, maar perd en natuur het wéér gewerk.
"Drie dae later het ek sy pa gebel. Nie om hom te kom haal nie, maar om vir hom te sê watter oulike seun hy het.
"Moenie dink dit was maklik nie. Hy't maar moeilik aangepas en ons moes ferm optree. Maar toe daardie 'iets' gebeur, het alles begin verander. Terug by die skool, het sy gedrag so verbeter dat hy uit Boys Town kon gaan na 'n ander skool. Hy het gekies om na 'n kosskool naby Mooikrans te kom sodat hy soveel tyd moontlik hier op die plaas kon deurbring.
En vandag is hy 'n suksesvolle jong man wat besig is om te bou aan 'n loopbaan."
En daar was die jong seun wat in moeilike omstandighede grootgeword het. Hy het as tiener eers regtig geleer lees toe hy by mense beland het wat hulle oor hom ontferm het.
Hy was moeilik en kwaad vir die lewe en het veral nie grootmense vertrou nie. Mooikrans was ook vir hóm die keerpunt.
Die man wat hom gevat het om groot te maak, is vandag baie trots op dié seun en sê die perdry-vakansies was die draaipunt in sy lewe.
"Daar op Mooikrans op 'sy' perd, Romeo, het hy geleer om weer te vertrou. Eers die perd en toe mense. Hy het vakansie ná vakansie teruggegaan en vaar nou baie goed. Hy is vanjaar in matriek."
Dan was daar die 13-jarige meisie met anoreksie. Haar pa was net so moedeloos. Nie geweet waarheen met die kind nie.
Toe hoor hulle van die perdryvakansies en sy beland op Mooikrans waar sy die eerste treetjies gegee het op haar pad na herstel.
Dis maar net drie van die duisende kinders wat hier op die Hoëveld kom heel word het.
Die meeste kinders kom egter Mooikrans toe vir 'n week se lekker plaaslewe.
Hulle staan douvoordag op om die perde in die veld te gaan haal. Hulle versorg varke, haal eiers uit en help kalfies voer. En só op 'n perd se rug met die Hoëveldse skoon lug in hul longe kry hulle 'n nuwe lig in die oë.
Dit is glad nie vreemd om ná die tyd te hoor hoe hul gedrag by die huis en skool verbeter het nie.
Een ma vertel dat selfs haar seun se houding verander het. Hy loop nie meer met sy oë op die grond en soek nie. Hy is regop en kyk 'n mens in die oë, want: "Tannie Elna sê dis soos dit hoort."
Vra jy egter vir Elna wat die resep is, lag sy net.
Ja, sy is 'n gekwalifiseerde perde-psigoterapeut. As oud-onderwyseres ken sy kinders en ná jare van boervrou wees ken sy 'n perd. Maar "niemand kon nog ooit regtig sê presies wat daar gebeur nie. Dis iets tussen die perd en die kind?.?.?."
Perdgefasiliteerde psigoterapie is egter niks nuuts nie, sê Elna. Hippokrates het al die waarde van perde in die herstelproses van die mens (liggaamlik en sielkundig) besef en aanbeveel dat gewonde soldate op perde gesit moet word om gouer gesond te word.
In Amerika is Equus Terapie (ET) ook baie gewild en daar word baanbrekerswerk op dié gebied gedoen.
Mense besef nou feitlik enige sielkundige probleem kan met ET gehelp word.Op Mooikrans Equus, waar plaasvakansies vir kinders tussen 9 en 18 aangebied word, word die terapeutiese waarde van perde soveel moontlik benut.
"Vandag se kinders het nie meer die geleentheid om regtig met fietse skool toe te ry, smiddae in die straat krieket te speel en saans in die buurt toktokkie te gaan speel nie.
"Dit is wat ons op 'n manier vir die kinders wil teruggee. Hulle leer hier nuwe vaardighede soos om eiers uit te haal of om 'n touhalter te knoop. Ons maak nooit die uitdaging te groot nie – juis sodat hulle die vreugde van sukses kan smaak.
"Om sukses te behaal en goed te voel oor jouself, is 'n belangrike bousteen in die ontwikkeling van selfvertroue en emosionele intelligensie. In dié hele proses speel die 33 perde op die plaas 'n sleutelrol."
Franklin Levinson, wat die Equine Facilitated Learning (EFL) in Amerika bekend gestel het, is dit eens en sê op sy webblad (www.naturalhorsetraining.com) ?deur perdeterapie leer die kind meer van homself, van ander en hoe om oor die weg te kom in 'n groter – dikwels moeilike – wêreld. Dit gaan nie net daaroor om te leer ry nie.
"Daar is klinies bewys dat die mens se breingolwe verander wanneer hy bloot net naby perde kom. Perde het 'n kalmerende invloed op mense en help ons om op te hou fokus op negatiewe goed en om eerder op positiewe ervarings te fokus."
Perde dien as 'n soort spieël vir die mens wat saam met hom is. 'n Perd wil veilig voel en is altyd op die uitkyk vir diere wat hom kan aanval. As sosiale dier is 'n perd ook altyd op soek na 'n leier.
Wanneer die kind geleer word hoe 'n perd gehanteer moet word, word hy gou die natuurlike leier wat die perd wil hê.
En dit laat die kind weer in beheer voel van sý wêreld en so kring dit wyer en wyer.
Wanneer kind en perd mekaar vir die eerste keer in die oë kyk, dwing die perd eintlik al klaar sy wil op die kind af en die kind kan nie anders nie as om te reageer op die gevoel van bekoring, ontsag, bewondering en toegeneentheid wat hy spontaan aanvoel.
Die selfgesentreerde gedagtes waarin hy so vasgevang sit, verskuif van homself en fokus op die perd.
Van die groot voordele van werk met perde, is volgens Elna onder meer:
* Perde het baie aandag nodig. En 'n mens vergeet sommer gou jou eie sorge wanneer jy jou perd versorg.
* Perde is groot en sterk en daag 'n mens uit om jou eie vrese te oorkom.
* Soos mense, reageer perde op emosie en jy leer gou dat jou ingesteldheid die deurslag gaan gee. Jou eie gedrag het 'n invloed op diegene om jou en jy moet soms jou gedrag aanpas om by jou doelwitte uit te kom.
* Die kind kry die kans om 'n band met die perd te smee, 'n verhouding te bou, te leer om te onderhandel, probleme op te los, te kommunikeer en uiteindelik sy eie perspektiewe en gedrag te verstaan.
* Doeltreffende kommunikasie met 'n perd verg geduld, begrip, aandag, vergewinsgesindheid en konsekwentheid – alles dinge wat 'n jong mens nodig sal kry in die lewe vorentoe.
Dis egter alles diep filosofieë en dié dinge gebeur sommer vanself op Mooikrans – so tussen die pret en speel deur. Die kinders weet nie eens hulle is besig met die dieper dinge van die lewe nie. En tyd vir wroeg oor probleme is daar nie op Mooikrans tussen die perde nie.
Wat | Waar
* Daar is vyf vakansiekampe van 'n week lank in die wintervakansie. Mense wat hul kinders wil stuur, moet gou spring. Die plekke raak min en hulle aanvaar nie meer kinders as wat gemaklik hanteer kan word nie.
* Bel Elna by 083 732 8172 vir meer inligting.
* Gaan na www.mooikrans.co.za vir foto's, agtergrond, datums en pryse.
Sowat tien studente wat self al deurwinterde besoekers op Mooikrans was, help elke vakansie op die plaas en bied kursusse aan onder die wakende oog van "tannie Elna wat nie nonsens vat nie".
Daar gebeur iets spesiaal met die tieners. As jy daar in die veld op jou perd is, kan jy nie help om iets spiritueels te voel nie. – Janice Terra
Vakansiekampe
Mooikrans Equus bied opvoedkundige en ander programme aan met die klem op leierskap. En natuurlik is daar 'n reeks kursusse oor alle aspekte van die natuurlike ruiterkuns (of cowboy-styl).
Daar is verskeie kursusse oor ruitervaardigheid. Die kursusse is baie prakties en jy leer byvoorbeeld hoe om ongewenste gedrag by perde af te leer, hoe om saam met jou perd in die veld te oornag, hoe om beeswerk op 'n perd te doen, sterrekonstellasies met 'n teleskoop te soek en heelwat meer. Die groot en finale kursus is dié vir senior perdemeester. Daar leer jy oor die perd se anatomie en fisiologie, die hantering van oop wonde, koliek, inentings en doserings en hoe 'n mens 'n suksesvolle knoop (lock on) doen. Met dié kwalifikasie agter die rug kan 'n mens op enige perdeplaas begin werk.
Die plaas
Daar is nie Eskomkrag nie. 'n Sonpaneelstelsel met 'n batterypak sorg vir die nodige elektrisiteit. En vir warm water word daar in 'n groot donkieketel vuur gemaak.
Daar is 'n lekker fietsrybaan wat 'n paar keer deur die spruit loop. 'n Avontuurbaan vir ruiters is ook baie gewild.
En in die veld, ver van die basiskamp af, is 'n oornaghut vir ruiters wat in die veld moet leer oorleef.
Al die bure het saamgespeel en grensdrade is van hekke voorsien sodat Mooikrans se uitritte oor 'n gebied van meer as 9 000 ha strek.
-RAPPORT
Landbouweekblad, 7 November 2008 : Mooikrans Equus
Vandag is Mooikrans Equus 'n gevestigde perdevakansieplaas en opvoedkundige sentrum op die eskarp van die Hoëveld naby Amersfoort in Mpumalanga, maar dit het fyn beplanning, baie deursettingsvermoë en 'n goeie skep Genade gekos om dit só ver te kry, vertel die vrou wat aan die roer van sake staan.
Elna Wahl, hoofbestuurder en trustee van Mooikrans Equus, en haar man, Jonnie, het onderskeidelik kwalifikasies in sielkunde en onderwys en in ingenieurswese. Die egpaar het hulle in 1992 op die plaas Mooigelegen naby Amersfoort gevestig. In daardie stadium was die gebied nog bekend as 'n uitsoek-skaapwêreld. Elna het vir baie jare suksesvol met skape en beeste op Mooigelegen geboer. Die boerderyinkomste het hoofsaaklik gekom uit die wolopbrengs van die skaapboerderey. Maar toe die wolmark destyds ernstig onder druk kom en skaapdiefstalle in die omgewing hoogty vier, het sy besluit om die skaapboerdery te staak. Dit was 'n hartseer besluit, want díe plaas se skeersel het twee jaar na mekaar die beste prys in Durban behaal in die klasse AFY en BFY (wol van jong skape). Elna het eiehandig elke vag van elke skeersel geklas omdat sy vas geglo het niemand kan dit beter doen as sy self nie.
Sonder die wolinkomste het die boerdery moeilike omstandighede in die gesig gestaar: Met die lae veepryse kon die beesboerdery eenvoudig net nie al die finansiële verpligtinge nakom nie. Drie kinders moes skoolgaan en die plaas moes betaal word. Hoe dit vermag sou word, was onduidelik.
Die Morgenzon-landbouskool se landbou-onderwyser het in daardie stadium onverwags bedank en die pos moes dringend gevul word. Binne drie dae het Elna, 'n opgeleide onderwyseres, haar in die vakante pos bevind en die vakke landbouwetenskap en veekunde vir standerd ses tot standerd nege aangebied. Sy het 'n ooreenkoms met die skoolhoof aangegaan om geen buitemuurse aktiwiteite aan te bied nie, want na-ure moes immers geboer word! So het 'n wonderlike samewerkingsooreenkoms gelei tot 'n hele paar jaar se samesyn met die skool, die skoolkinders en Elna se spruite wat ook daar skool gegaan het. Ná 'n jaar in die landboupos het sy, danksy haar sielkunde-onderrig, ook die vak opvoedkundige leiding aangebied. Dit was tóé dat sy intens gemoeid geraak het met die herstelproses en weerbaarmaking van kinders wat deur die aanslae van die lewe getref is. Dikwels het van hierdie kinders vir 'n naweek of selfs 'n week of langer saam met Elna en haar eie kinders plaas toe gegaan om 'n bietjie asem te skep teen die lewe daarbuite. Daar kon hulle na hartelus perdry, in die plaasdam swem, met die plaaswerk help en hulle saans vergaap aan die helder sterrehemel. Die terapeutiese waarde van dié plaasbesoeke, die vreugde wat daaruit geput is, en verál die rol wat perde in dié helingsproses speel, het Elna laat besef dat sy te doen het met 'n uitsonderlike kombinasie van omstandighede wat ook 'n wonderlike diens aan die mensdom kan lewer.
Na byna ongelooflik gunstige resultate van 'n perdryterapie-projek met kinderhuiskinders wat oor ses maande gestrek het, het Elna die onderwys vaarwel toegeroep. Sy het besluit om 'n kursus in perd-gefasiliteerde psigoterapie te volg en is deesdae volle lid van die "Equine Facilitated Mental Health Association" in die Verenigde State van Amerika. Tussen die studies deur is hard gewerk en ál die spaargeld is gebruik om die historiese plaashuis te herskep in 'n bewoonbare gebou. Dié huis, wat vroeër as skeerhok gebruik is, is vandag Mooikrans Equus se hoofgebou. Mettertyd het slaaplokale, kleedkamers, badkamers, lesinglokale en 'n eetsaal gestalte gekry. By gebrek aan elektrisiteitsvoorsiening is 'n sonpaneelstelsel met 'n batterypak geïnstalleer. Daarby is 'n projek vir watervoorsiening en die verwerking van afvalwater aangepak. Drie perdry-arenas, 'n avontuurbaan vir perderuiters en 'n fietsrybaan wat die spruit 'n paar keer kruis, is aangelê. 'n Oornaghut, ver van die plaasopstal in die veld, het op die klipfondasie van 'n ou boerewoning herrys. Met die vriendelike toestemming van bure is hekke in grensdrade aangebring om 'n gebied van meer as 9 000 hektaar vir uitritte beskikbaar te hê.
Elna se droom het waar geword. Mooikrans Equus het ontwikkel tot 'n sentrum waar verskeie opvoedkundige aktiwiteite aangebied word vir skool-, kerk- en kultuurgroepe. Daar is slaapplek vir 100 gaste en besoekers kom selfs só ver as van die Wes-Kaap vir gewilde plaasvakansies. Die plaas se 33 geskoolde kinderperde bly egter die spil waarom alles draai, sê Elna. Na Elna se gesprekke oor Radio Pretoria en Radiosondergrense onderskeidelik oor "perdgerigte ruiterskap" en oor "die perd en persoonlikheidsontwikkeling by die kind" asook artikels in die SA Horsemanship oor "gunstige voortgesette geestesgesondheid", is sy oorval deur navrae van mense wat meer wou weet oor die perd en sielkundige terapie.
Mooikrans Equus bied tans 11 kursusse in ruitervaardigheid aan. Kursusgangers verwerf 'n sertifikaat en roset na die suksesvolle voltooiing van elke kursus. Onder die ander kursusse, wat veral gewild is by skoolgroepe, tel leierskapontwikkeling, karakterbou, leef met trots, oorlewing in die veld en inleiding tot sterrekunde. Die kursusse het meestal ook 'n praktiese gedeelte, soos hoe om ongewenste gedrag by perde af te leer, hoe om saam met jou perd in die veld te oornag, hoe om te perd met beeste te werk en die soek van sterrekonstellasies deur 'n teleskoop. Die finale kursus, die senior perdemeesterskursus, handel oor die anatomie en fisiologie van die perd, hoe om oop wonde te hanteer, koliek, inentings en dosering, asook hoe om 'n suksesvolle knoop ("lock on") te doen. "Met hierdie kwalifikasie is die kursusganger deeglik toegerus om op 'n perdeplaas te begin werk," vertel Elna. Perde met potensiaal vir kinderperde word aangeskaf om oor maande deeglik geskool te word volgens die beginsels van perdgerigte ruiterskap. Sulke perde word dan weer met toegevoegde waarde verkoop as betroubare, opgeleide kinderperde met Mooikrans se waarborg. Die beesboerdery bestaan uit 'n kommersiële Nguni-kudde en dan is daar 'n klompie mak melkkoeie wat as hanskalwers grootgemaak is en 'n hansskaaprammetjie wat alte graag die kinders jaag. Stads- en dorpsjapies kry dus kans om hul melkvaardighede eerstehands op te knap en ook om die varke, hoenders en ander plaasdiere te versorg. Met die vestiging van Mooikrans Equus het die plaas van 'n kommersiële boerdery feitlik ten volle verander in 'n bewaringsgebied. Keerwalle in die spruit het vleilande geskep en honderde bome is geplant. En omdat daar nie meer met skape geboer word nie, hou jakkalse (én tweebeen-jakkalse!) nie meer 'n bedreiging in nie. Die natuurlike wild het na die omgewing teruggekeer. Vaalribbokke, hase, ystervarke, steenbokkies, duikers, muishonde, muskeljaatkatte en tarentale word dikwels gesien. Selfs nagdiere, soos erdvarke en tierboskatte, word soms tydens naguitstappies in die lig van die soeklampe gesien.
Elna vertel trots dat die Mooikrans Equus Trust 'n familie-onderneming is. Hoewel sy die hoofbestuurder en trustee is, is Jonnie deeltyds betrokke by die beplanning van die opvoedkundige- en opleidingsprogramme. Gisela Dafel en Jeanette Beetge is heeltydse perdemeesters, maar het ook ander take. Antjie, met 'n B.Ed.-graad agter haar naam, het uitgebreide kennis van perde en is verantwoordelik vir die opstel, hersiening en aanbieding van die ruiterskapkursusse en daarby sien sy ook om na die welsyn van die perde. Jeanette tree tydens kampe op as kampbestuurder. Tydens kampe word tot tien studente, wat self vroeër op Mooikrans gekamp het, aangestel om hand by te sit. Hulle kom elke vakansie van elke jaar omdat kontinuïteit belangrik is. Uiteraard is die persoonlikheid en die opleiding van elke werker van groot belang.
Elna skryf die sukses van Mooikrans toe aan haar personeel, verál haar man, kinders en skoonkinders. Vir hulle was iets nog nooit te vergesog of te veel gevra nie. "Hulle beoefen nie 'n beroep nie. Dit is vir hulle 'n lewenstaak en leefwyse. Mooikrans, met sy leuse: 'Dien die mensdom, want daardeur dien jy die Here', bied 'n wonderlike geleentheid om die Evangelie uit te dra en uit te leef", sluit Elna af.
Radio Pretoria : Die perd se behoefte aan vriende
Hierdie gesprek oor perde is deel van 'n reeks wat gedurende 2006 op Radio Pretoria uitgesaai is. Die gesprekke is op CD beskikbaar en kan by Mooikrans bestel word.
Vandag gaan ons bietjie gesels oor die perd se behoefte aan vriende. Sy behoefte aan sosialisering. Ons kan dit ook noem: groepsgebondenheid.
Ons weet al dat die perd 'n kuddedier is en dat die wye veld, in 'n trop, die gemaklikste plek vir hom is. Vir hom beteken die trop sekuriteit. Hou gerus maar 'n trop perde in die veld dop. Hulle is gedurig bewus van mekaar en het gedurig kontak met mekaar. As jy noukeurig kyk, sal jy sien dat hulle ook 'n tipe van brandwag uit het wat op gevaar moet let en die trop moet waarsku. Die trop beweeg soos een. As hulle vlug sal almal gelyk vlug en as hulle besluit om te stop, sal almal gelyk stop.
Die jong vulletjie word in die trop gebore in 'n sosiale struktuur. Hy leer van sy ma wat aanvaarbare gedrag vir 'n perd is. Die troplede leer hom van persoonlike ruimte, ordentlike gedrag, gehoorsaamheid en respek. Hy leer ook van onaanvaarbare gedrag. Ek het al gesien hoe skop 'n volwasse merrie so 'n jong hingsvul wat sommer oormoedig aan haar kom ruik. Die vul leer ook gou dat jy nie sommer aan iemand anders kan byt nie. Jy kry 'n skop. Hy leer dat daar 'n waterdrinktyd is wat voorgeskryf word deur die leiermerrie en hy leer op die harde manier dat hy nie moet skoor soek met die ouer omies in die trop nie.
Maar hy het die wonderlike geleentheid om sy dae om te speel saam met sy maats. Hulle hardloop reisies, spring oor die spruitjie, skop na mekaar, raak soms in 'n onderonsie betrokke, en wip hulle saam vir hulle ma's. Nes ons mense kinders.
'n Perd wat gewoond is aan 'n sosiale kode, wat al in die trop geleer het wat is persoonlike ruimte, gehoorsaamheid en respek, leer baie gou dat jy as sy hanteerder dit ook van hom verwag. Die perdehanteerder moet duidelike reëls neerlê oor hierdie tipe gedrag en die reëls konsekwent toepas. Die perd wat nooit geleer het wat persoonlike ruimte is nie, is daardie opdringerige perd wat altyd in jou gesigsveld wil wees en op jou voete trap. Dan kan jy maar kyk, sy ruiter probeer hom hanteer deur mooi broodjies te probeer bak.
Hy is nie net opdringerig nie, hy is ook oorweldigend en probeer jou domineer. Hou maar in die veld dop watter perd betree watter een se persoonlike ruimte. As jy jou trop ken sal jy weet in watter rangorde elkeen geplaas is. Wanneer die mindere perd in die trop hiërargie, die meerdere se persoonlike ruimte betree, word hy ordentlik verjaag. Dit gebeur wel andersom, en dan moet mindere padgee. So bevestig die perd dat hy steeds die hoër plek in die hiërargie beklee. Dit is nogal belangrik in die perd-ruiter-verhouding dat die ruiter die meerdere sal wees en die perd hom as sodanig sal respekteer. Die perd moet ontsag hê vir die ruiter. As die perd nie ontsag het vir jou nie, is daar geen manier waarop jy jou perd sal ry nie.
Die enigste geselskap is sy ma. Sy enigste maat om mee te speel is sy ma. Sy ma laat alles toe, want onthou, dit is haar babatjie. En ook haar enigste geselskap. Sy leer hom nie goeie maniere nie. As hy byt, hou sy uit. As hy van lawwigheid teen haar vashardloop sit sy hom nie op sy plek nie. Sy leer hom nie van persoonlike ruimte nie. As hy sommer opspring teen haar gesig knyp sy maar net oë toe.
Sake word gewoonlik nog slegter gemaak, want gewoonlik word so 'n vulletjie bederf deur sy eienaar. Hy word agter die oortjies gekrap en toegelaat om lekkertjies uit sakke te snuffel. Hy is oor jou en om jou, te oulik! Dit is alles goed en wel totdat die vulletjie so vyf maande oud is, maar as hy 'n jaar is, is dit 'n perd van 'n ander kleur en ander kaliber. Niemand vind dit snaaks as hy dan teen jou vashardloop nie.
Op Mooikrans glo ons daaraan om die dag wanneer die nuwe vulletjie gebore word, opsy te sit en die hele dag met die vulletjie deur te bring. Sommer reeds in die eerste uur verloor die vulletjie sy natuurlike mensvrees. So 'n perd wat geen mensvrees het nie, word baie makliker geleer en geskool as 'n wilde, wilde perd wat nog nooit in aanraking met 'n mens was nie. Die heel moeilikste perd om te leer, is natuurlik die perd met een of meer onaangename ervarings met mense. Na die eerste dag se bederwery verby is, word hy nes die ander perde behandel en moet die moeder en die res van die trop, die vul grootmaak.
Die jong vulletjie leer al die aanvaarbare sosiale gedrag in die trop. Hy sien hoedat die hings eers vlerk sleep by die merries en weet hoe om hom te gedra wanneer hy groter is. Wanneer die merrietjie vir die eerste keer vul, het sy alreeds ander merries met vullens gesien. Iemand het my vertrel hoe bang 'n jong merrietjie vir haar vulletjie was totdat die moederinstink ingeskop het, gelukkig baie gou.
Ons legendariese ou Pollie, 'n palomino merrie wat al verskeie vullens in haar lewe gehad het, het op haar oudag ontaard in 'n vulletjie dief. Ons as mense het dit wys geag om Pollie nie weer 'n keer te laat vul, toe sy op 28 haar laaste vul gehad het nie. Ons het gedink sy kan nou maar aftree.
Toe een van die ander merries vul, soos gewoonlik in die nag, het Pollie reeds haar kans waargeneem en gedurende die nagtelike ure, die pasgebore vulletjie van haar ma afgerokkel, en laat vat. Die arme jong merrietjie het nie geweet wat aangaan nie. Sy was skrikkerig vir Pollie want Pollie was die ou alfa merrie en in hierdie geval glad nie te goed geaard nie. Pollie was so boosaardig en besitlik oor die aangenome vul dat ons moes bontstaan om die vul weer terug geneem te kry!
Gryp die dag
Artikel SA Horseman
Oktober 09
As kind is ek op 'n mistieke wyse deur perde bekoor. As student was ek opgeslurp deur die wetenskap van die sielkunde. As jong onderwyser in opvoedkundige leiding het ek help dra aan die swaar las op jong skouertjies.
As ma het ek my verlustig in die ongekompliseerde grootword van my kinders op ons pragtige plaas, tussen ons pragtige perde. As ouma het ek die Here gedank vir al hierdie jare se voorbereiding toe ek my eie, dierbare Down-sindroom kleindogtertjie, Elri, vir die eerste keer op my jarelange terapieperdjie, Rofti, getel het.
Perdgefasiliteerde psigoterapie maak gebruik van die perd as hulpmiddel in die terapeut-kliënt verhouding. Nie noodwendig die ryproses as sulks nie, maar ook die perd self en al die aktiwiteite rondom perde, skep die geleentheid vir 'n optimale terapeut-kliënt verhouding.
Pasiënte wat moeilik in 'n spreekkamersituasie respondeer, is hier meer ontspanne en emosies, gevoelens en gedagtes kom makliker tot uiting. Perdondersteunde terapie skep ook vir die tiener die geleentheid om in 'n veilige opset (waar hy/sy nie bedreig voel nie) sy gevoelens van vrees, angstigheid, onbeholpenheid en twyfelmoedigheid te hanteer.
Kinders met emosionele probleme beleef hul wêreld baie negatief en is dikwels negatief ingestel teenoor volwassenes. Die perd met sy mistieke bekoring vir elke kind, is hier 'n wonderlike hulpmiddel.
Wanneer die tiener aan die perd bekend gestel word, dwing die perd onmiddelik eise op die kind af. Hy kan nie anders as om te antwoord op die gevoel van bekoring, ontsag, bewondering en toegeneentheid wat spontaan in hom opwel nie. Sy selfgesentreerde gedagtes waarin hy so vasgevang sit, verskuif van homself en fokus op die perd.
Selftrots
Die bemeestering van vaardighede soos om self jou perd op te saal en te versorg, skep 'n gevoel van selftrots, eiewaarde en verowering van die onbekende. Geen wonder dat elkeen, na 'n paar dae op Mooikrans Equus, soos 'n koning op sy perd sit wanneer hy op die wye velde van die Hoëveld ry nie.
RSG Gesprekke
Mooikrans se Ruiterskapkursusse word in Dubai aangebied:
Sarel en Anschen du Plessis skryf uit Dubai - 3 Augustus 2010
Nuus hierdie kant is dat ek al die afgelope paar maande aan beplanning werk om vir Sarel en Marcel 'n geleentheid te kry sodat hul die perde-kursusse kan aanbied in Dubai en soos jy weet, is dit half 'n onmoontlike taak gewees.
Maar met die lang vakansie op hande het ek weereens advertensies opgestel, die Mooikrans Equus kursusmateriaal in Engels vertaal en ons het die eienaar van ons Perdryskool genader en hy het sy toestemming gegee dat ons met die kursus kan voortgaan op sy perseel.
Ons noem die kursus net NATURAL HORSEMANSHIP en beplan om die ouens bietjie beter bewus te maak van die perd se natuur, sy liggaamstaal, hoe om na die perd te kyk, ens. Die eienaar is baie opgewonde, want hy voel die mense verniel sy perde en dat die huidige perde-hanteerder is 'n vrou en niemand luister na haar nie, so hul maak met die perde net soos hul wil.
Hy voel dit sal die mense help om sy perde beter op te pas en beter te verstaan en selfs 'n liefde vir die perd te kweek.
Ons is baie opgewonde hieroor. Jy sal nie glo hoeveel volwasse arabiermans na die kursus wil kom nie. Bid asb. dat die kursus 'n sukses sal wees.
Ag, ons verlang na jul, maar bid vir jul en wens ons kan jul binnekort sien.
Anschen du Plessis skryf uit Dubai
Hallo Elna,
Dis die eerste keer dat ons kans kry om vir jou te skryf. Ons was tot onlangs in SA, maar is nou terug in 'n baie warm Dubai.
Wat die vakansie op Mooikrans aanbetref, ons kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike en unieke ervaring wat ons gehad het nie en hoeveel dit vir ons woestynbewoners beteken het nie. Ons kan die Here nie genoeg dankie se vir die geleentheid wat jy aan mense bied om weer deel van die plaaslewe te kan wees nie. My seuns het sommer weer kultuur gevang en baie nuwe vriende gemaak met wie hul steeds kontak hou op skype en Mxit (iets wat oorsee baie belangrik is om te kan doen). Ons het ALLES geniet, van die kos en perdry tot die kursusse en die samesyn, maar veral om jou en jou man te kon ontmoet. Ons mis jul regtig baie en jul sal nog lank met ons kan wees.
Marcel het soveel selfvertroue gekry en kan nou op enige van die arabier perde hier ry (Ali is baie beindruk met sy vermoens). Ali is die stalmeester en afrigter. Hy gebruik die seuns met absoluut alles. Hul help met die hoewe ook. Marcel het Sarel oorreed dat die neusband wat om ons eie perd se bek is, af te haal en Ali kon nie glo die arabier ry sonder dit nie. Hier hou hul daarvan as die arabier perde se nekke so kiertsregop staan. Robin was ook in staat om 'n moeilike arabierperd in toom te kon hou. Hy kan ook op enige perd ry. Ek het van die perde fotos vergroot en dit vir Ali gewys.
Hy wil he ek moet dit na ons perde tydskrifte toe stuur met 'n artikel daarby (sal nog sien hoe en of ek dit gaan doen). Dis die eerste keer dat hy van ons boerperde sien.
Liefde aan almal,
Anschen
David uit Knysna Skryf:
Ja hy is n pragtige seun met n goue hart. Daar is steeds stukkies van sy verlede wat seker nooit uitgevee sal word nie. Hy moes sy lewe deur baklei. Alhoewel hy nou sy humeur baie beter beheer bly daar nie veel van opponent oor wanneer hy in n "onder-onsie" betrokke raak nie. Natuurlik het hy nou al so n reputasie dat die ander seuns hom nie sommer aanvat nie. Liewer roep hulle hom om te help wanneer hulle in die moeilikheid is! Dat hy sy woede nou beter beheer is verblydend.
Mooikrans het vir hom op die eeste besoek gewys dat i.p.v om stout te wees, mens ook gewild kan wees en aandag kan kry deur behulpsaam en bedag te wees. Dink nie jy besef wat n waterskeiding dit vir hom was nie.
Groete,
David
Elna Wahl
BA Sielkunde, NHOD
lLid: EFMHA, NARHA, VSA
* Name is verander om persone te respekteer.
