Mooikrans Equus is 'n perdrysentrum en vakansieplaas, geleë op die eskarp van die Hoëveld van Mpumalanga, 27 km van Morgenzon af op die R35 roete na Amersfoort..
Dit is 'n familiebesigheid wat wyd bekend is vir gasvryheid, vriendelikheid en die hoë standaard van al die aktiwiteite.
Dit is nie ongewoon om uiteindelik huisvriende te word met persone wat aanvanklik as besoekers leer ken is nie! Mooikrans se leuse, Gryp die dag, is 'n weerspieëling van Christelike waardes en die geloof dat elke dag geleef moet word tot Sy eer. Die personeel van die plaas streef daarna, en doen hul uiterste bes, om aan elke besoeker 'n aangename en veilige verblyf te verseker.
Wat ons u bied: 'n besonderse ervaring
'n Verskeidenheid van opvoedkundige, psigoterapeutiese en sosiale programme word hier aangebied.
Die breë spektrum van programme is saamgestel sodat skole, groepe of die individuele jeug- of kindertoeris daaruit kan kies in watter betrokke behoefte daar voorsien moet word. Programme sluit o.a. in leiersontwikkeling en -opleiding, opvoedkundige programme, 'n reeks kursusse wat alle aspekte van die natuurlike ruiterkuns ("Western" of "cowboy") dek en selfdoenprogramme vir jeug/kindergroepe.
Die doel van alle programme is om die besoeker se karakter te bou deur veral selfbeeld en selfstandigheid te ontwikkel, terwyl 'n aangename vakansie geniet word. Hierin speel die perd en perdry 'n sentrale rol. Die perd word gebruik omdat perdry die volle aandag van die ruiter verg: brein en liggaam moet saamwerk om sukses te behaal.
Die bemeestering van die perd gedurende hierdie proses, lei byna noodwendig tot die ontwikkeling van 'n gesonde selfbeeld.
Mooikrans Equus is ingerig om tot 'n 100 persone in sewe slaaplokale te huisves. Hierbenewens is 'n aantal privaatkamers ook beskikbaar.
Ligging en roete:
Ongeveer 240km vanaf Pretoria op die Hoëveld van Mpumalanga.
GPS: Suid 26 56,234 Oos 29 44,328
Roete na Mooikrans vanaf Pretoria:
- Vanaf Pretoria. Neem R21 veby die Lughawe, neem Rietfonteinweg, dan Rondebult en gaan op N17 snelweg na Bethal. In Bethal neem R35 na Morgenzon/ Amersfoort/ Volksrust. Draai in Morgenzon links by Shell Vulstasie en ry met R35 presies 27km, draai regs by Mooikrans se ingang.
Vanaf Johannesburg:
- Vanaf Johannesburg neem N17 snelweg na Bethal. In Bethal neem R35 na Morgenzon/ Amersfoort/ Volksrust. Draai in Morgenzon links by Shell Vulstasie en ry met R35 presies 27km, draai regs by Mooikrans se ingang.
- Hierdie roete is die kortste, die vinnigste en die pad is pragtig. Ry asseblief versigtig op die stuk tussen Morgenzon en Mooikrans
Vanaf Nelspruit:
- Vanaf Nelspruit. Ry na Ermelo, dan Morgenzon. In Morgenzon draai links op die R35.
- Vanaf Morgenzon 27 km op regterhand.
